
My buurvrou het dit begin. Sy't die 7 swart eendjies begin voer net nadat hulle by die dam reg voor ons huis aangekom het. Hulle was mal oor die hondepille wat hulle elke dag voor haar motorhuis se deur gekry het. So, toe my buurvrou trek, het sy my amptelik gevra om vir haar eende om te gee. Wat aanvanklik bietjie van 'n krisis was (ek het 3 honde wat hase jaag, wat nog van oulike klein eendjies), het in 'n baie bevredigende ritueel ontaard. Half 7 elke oggend. Ons honde slaap dan nog in die motorhuis en ek glip stilletjies uit by die agterdeur. Die oomblik as ek naby die dam kom, begin my eende kwak. Dan "kwakkwakkwak" ek maar terug. Hulle jaag altyd resies met die 2 grotes om te kyk wie kom eerste by my uit.

En as dit dalk te ver is om te loop, spring hulle gou in die dam en swem nader.

Dit lyk darem of hulle net so baie van regte eende "pellets" as hondekos hou. Miskien is hulle net vrek honger.

Wat sê die liedjie, "Eendjies eendjies daar in 'n ry..."? Wie weet hoekom hulle in rytjies stap of swem. Klaar geëet, reguit dam toe. Tot more oggend dieselle tyd.

Al een wat presies weet waar ek half sewe elke oggend is, is Kat.